Stofkringloop

Die meeste elemente kom in verbindings voor en kan in minerale gesteentes, die atmosfeer en as organiese verbindings in lewende organismes aangetref word. Daar vind 'n voortdurende uitruiling van die elemente tussen die verskillende komponente van die biosfeer plaas en die sirkulasie staan as stofkringlope, of biogeochemiese kringlope, bekend.

Die kringloop van voedingstowwe en ander elemente is vir lewende organismes van groot belang. Daar kom ongeveer 90 elemente natuurlik voor, en tussen 30 en 40 daarvan is belangrik vir die metabolisme van lewende organismes. Die organismes verkry die noodsaaklike elemente as voedingstowwe, of as gasse wat tydens gaswisseling uit die omringende omgewing opgeneem is. Die elemente word deur die organismes tot deel van hul liggame verwerk.

Wanneer die organismes sterf, keer die elemente na die omgewing terug, danksy die aktiwiteite van ʼn groot verskeidenheid mikroörganismes wat die ingewikkelde organiese verbindings tot eenvoudige anorganiese minerale afbreek. Die elemente word dan weer deur ander lewende organismes opgeneem, en so begin die siklus van voor af. Gevolglik vind daar 'n voortdurende uitwisseling van minerale tussen lewende organismes en hul omgewing plaas.

Aangesien dit 'n sikliese kringloop van gebeure is, word dit stofkringlope of biogeochemiese kringlope genoem. Bio dui op die lewende organismes, terwyl geo "aarde” beteken. Die begrip aarde sluit onder andere die water, lug en gesteentes van die aardkors in, en dit vorm die 3 vernaamste bronne van elemente.

Twee basiese soorte kringlope kan onderskei word: die van gasse soos suurstof, koolstofdioksied en stikstofoksiede, waarvan die atmosfeer die belangrikste bron is, en die van vaste stowwe soos fosfor, yster, swael, kalsium en ander minerale, wat uit gesteentes vrykom as gevolg van verwering, erosie, bergvorming en vulkaniese aktiwiteite. Vaste stowwe se kringlope duur langer as die van gasse.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search